Dissiplinêre Stelsel

Die woord dissipline asook die woord dissipel kom van die Latynse woord discere wat “om te leer” beteken.

Dissipline beteken dus eintlik om te leer, op te lei, of af te rig.  Dit behels die vorming van die kind se karakter in sy totaliteit deur goeie gedrag aan te moedig en onaanvaarbare gedrag reg te stel.  Dissipline is alles wat ‘n opvoeder vir die kind doen of sê om hom/haar op die pad na volwassenheid te begelei.

Soos ‘n goeie tuinier sy plante kunsmis en water gee, die grond om die plant gereeld losspit sodat die wortels genoeg suurstof kry, die natuurlike groei van lote en wilde lote terugsnoei, sodat die plant op sy mooiste kan blom en vrug dra, so is dissipline daarop gerig om die kind ten beste vir die lewe voor te berei.  Om te dissiplineer beteken om op te voed!

Klik hier om die puntestelsel af te laai.

Hierdie dissiplinêre beleid is opgestel met inagneming van die Suid-Afrikaanse Skolewet.

Gedrags- en dissiplinêre probleme van leerders neem beslis toe.  Hierdie probleme manifesteer hoofsaaklik in die Hoërskool, veral in gevalle waar daar nie in die Laerskool teenoor onaanvaarbare gedrag en swak dissipline opgetree of ‘n oplossing daarvoor gevind is nie.

Die rede vir die implementering van die dissiplinêre beleid is hoofsaaklik die volgende:

  • Om oortreders van hulp te wees, te rehabiliteer en dan om daadwerklik op te tree wanneer die oortreder ander leerders se voorreg tot onderrig ontneem.
  • Om leerders voor te berei en bewus te maak van soortgelyke stelsels op Hoërskool deurdat ‘n spesifieke oortreding aan ‘n gewig/debietpunt gekoppel word.  Terselfdertyd word leerders basiese beginsels aangeleer van dissiplinêre prosedures in die volwasse werksomgewing.
  • Om vir onderwysers ‘n meer spesifieke instrument daar te stel om makliker dissipline te handhaaf binne en buite klasverband.  Dit is ook belangrik dat daar besef word dat daar geen volmaakte dissiplinêre stelsel bestaan nie en dat meriete, diskresie en menslikheid altyd in ag geneem moet word.
  • Die verbetering van kommunikasie en korrespondensie tussen ouers en die skool ten opsigte van leerders wat gedrags- of dissiplinêre probleme ondervind, sodat daar saam na ‘n oplossing gesoek kan word en daaraan gewerk word.

Ouers is en sal altyd primêre opvoeders van u kinders wees, en ons is dankbaar teenoor ouers, dat ongeveer 95% van leerders ‘n goeie opvoeding ontvang.  Die meeste van hierdie kinders sal derhalwe nie deur die dissiplinêre stelsel geaffekteer word nie.  Daar is egter die bekommernis dat die 5% “oortreders” aan die toeneem is en hierdie dissiplinêre stelsel is daar om hierdie groei te strem!

Die skool is ‘n geordende gemeenskap en tree altyd gedissiplineerd op – dit is bevorderlik vir prestasie.  Die beste is selfdissipline en daarom streef ons tot ons eie voordeel en tot voordeel van mekaar altyd daarna.  Die samewerking van elke leerder, ouer en onderwyser word vriendelik gevra.

Dissipline is daarop gerig om die leerder ten beste vir die lewe voor te berei.  Om te dissiplineer beteken om op te voed.  Straf is maar net ‘n tydelike deel van dissipline:  ‘n korttermynreël om die leerder van verkeerde optrede te weerhou.

Ouers is primêr verantwoordelik vir dissipline van hulle kind en moet saam met die kind oplossings vir probleme vind.

Debietpunte word in verskillende kategorieë verdeel soos aangedui op die Padvinders.

  • Sodra ‘n leerder dus 15 debietpunte het, word ‘n drukstuk na die ouerhuis gestuur wat deur die ouers onderteken moet word.
  • Alle debietpunte word deur die leerder onderteken, waarmee hy/sy erken dat dit die waarheid is wat aangeteken is.  ‘n Kort beskrywing van die gebeure word ook aangeteken.
  • Indien ‘n leerder wel meen dat hy/sy onregverdig behandel is, mag hy/sy appèl aanteken by die graadhoof verantwoordelik vir die graad.  Hierdie appèl moet binne 24 uur geskied.
  • Indien die leerder weier om te teken en sy/haar appèl misluk, word die punte dadelik aangeteken.
  • Leerders wat vir detensie kwalifiseer sal die Woensdag of Donderdag van die voorafgaande week (ongeveer 10 dae voor die detensiedag) kennisgewing van die genoemde detensie ontvang.  Die kennisgewing bevat ‘n afskeurstrokie wat vir kennisname deur die ouer geteken en binne twee dae teruggestuur moet word.
  • Graadhoofde van elke graad neem die rekenaardrukstuk, verduidelik die prosedure en oorhandig die kennisgewing aan die leerder om aan die ouers te gee vir kennisname en ontvangserkenning.
  • Indien ‘n leerder 50 debietpunte het, word die leerder se ouers telefonies deur die graadhoof daarvan verwittig.  Die ouers ontvang ‘n verdere skrywe en die leerder word onder ‘n remediërende program geplaas.  ‘n Gesamentlike poging word aangewend om die leerder te help.
  • Op 100 debietpunte word die ouer/ouers skriftelik kennis gegee dat hulle op ‘n gegewe tydstip saam met die leerder voor die Dissiplinêre Komitee moet verskyn.  Indien die ouer/ouers nie teenwoordig is nie, sal hulle skriftelik kennis gegee word van die Dissiplinêre Komitee se besluit.  Leerders wat ‘n leierskapsposisie beklee, kan van die raad geskrap word indien hy/sy 100 debiete het en die Dissiplinêre Komitee so besluit nadat die verhoor plaasgevind het.  Leerders wat 100 debietpunte geakkumuleer het, mag nie vir erekleure in aanmerking kom nie.  Leerders wat reeds erekleure het, se erekleuredrag word opgeskort tot die volgende jaar.
  • ‘n Leerder met 100 debietpunte of meer, kan geskors of uit die skool gesit word.
  • Sodra ‘n leerder ‘n oortreding begaan wat veroorsaak dat hy/sy 100 debietpunte bereik, word sy/haar geval na die Dissiplinêre Komitee verwys:  Debietpunte, of die Dissiplinêre Komitee:  Ernstige oortredings, om gestraf of verhoor te word.  (Let daarop dat daar twee Dissiplinêre Komitees bestaan.)
  • Op 125 en 150 debietpunte word weereens kontak met die ouers gemaak deur die graadhoof.  Die geval word weer eens na een van die Dissiplinêre Komitees verwys vir verdere stappe.
  • Slegs die vierde kwartaal se geakkumuleerde punte word oorgedra na die volgende jaar.  Indien ‘n leerder aan die einde van die eerste kwartaal van die volgende jaar geen addisionele punte bygekry het nie, verval alle punte en begin sulke leerders weer op ‘n nulstaat.
  • Debietpunte vir ernsitge oortredings kan op amptelike dokumente aangedui word.

Tug wat opgelê mag word, sluit die volgende in, maar is nie daartoe beperk nie:

  • Toekenning van debietpunte.
  • Waarskuwings.  ‘n Leerder word maksimum twee maal gewaarsku.  Hierdie waarskuwings word aangeteken in die leerder se huiswerkboek.  Indien hy/sy dieselfde oortreding ‘n derde keer begaan, ontvang hy/sy detensie.
  • Dra van ‘n vorderingsverslag.
  • Detensie vind elke Vrydag by die Skool onder toesig plaas vanaf 14:10 tot 16:40, met ‘n pouse van 15 minute.
  • Daar sal register geneem word aan die begin van die eerste en tweede sessie.
  • Die leerders wat detensie sit, moet geklee wees in hulle skooldrag.
  • Toestemming vir uitstel van detensie kan slegs deur die Adjunkhoof of Skoolhoof gegee word en slegs een maal vir ‘n spesifieke oortreding met dien verstande dat die detensie op die daaropvolgende geleentheid gesit moet word.  Indien ‘n leerder nie opdaag vir detensie sonder toestemming nie, ontvang hy/sy nog 15 debietpunte wat beteken dat hy/sy dubbele detensie moet sit (m.a.w. 2 datums).  Toestemming vir vryskelding van detensie kan slegs deur die Skoolhoof of Adjunkhoof gegee word.
  • As daar enige onaanvaarbare gedrag of probleme ontstaan tydens detensie sal die spesifieke leerder die detensie voltooi en ‘n bykomende detensie aan die leerder toegeken word.
  • Tydens detensie word die Gedragskode uitgeskryf, omdat dit dié Kode is wat spesifiek oortree is.  Alternatiewe opdragte word nie gegee nie omdat die onderwyser gestraf word deur opdragte te formuleer en ook na te sien, die leerder moet gestraf word, en nie die onderwyser nie!
  • Verbod op dra van erekleure.
  • Verbod op deelname aan die skoolaktiwiteite (bv. sport).
  • Skorsing en uitsetting:   Die SA Skolewet bepaal dat ‘n beheerliggaam ná ‘n regverdige verhoor, ‘n leerder van bywoning van die skool kan skors:
    • As ‘n korrektiewe maatreël vir ‘n tydperk van hoogstens een week; of
    • in afwagting van ‘n beslissing deur die Departement (Onderwyshoof)  of die leerder uit die skool gesit moet word op grond van ‘n skuldigbevinding aan ernstige wangedrag.  Skorsing bly ‘n tydelike maatreël, terwyl uitsetting ‘n permanente maatreël is.  Met skorsing is dit en bly dit die leerder se verantwoordelikheid om verlore of agterstallige akademiese skoolwerk op datum te hou, en nie dié van die opvoeders nie.
  • Kombinasie van bovermelde.

Anti-Boelie Groot Vyf

Hanteer 'n boelie so

As jy bang is vir iemand anders en jy wys vir daardie persoon hoe jy voel, gaan hy aanhou om jou te boelie. Wanneer jy verby ’n boelie loop, hou jou kop hoog en stap verby sonder om in sy rigting te kyk.

Moenie betrokke raak in ’n woordewisseling met ’n boelie nie. As ’n boelie jou dreig of iets slegs vir jou sê, ignoreer hom of haar en stap verby. Boelies hou daarvan om ’n reaksie by ander te kry. As jy hom ignoreer, mag dit sy gedrag stopsit.

As die boelie aanhou om jou te treiter, sê hard en duidelik vir hom of haar om dit stop te sit. Maats moet ook leer om saam te staan en vir ’n boelie te sê om op te hou om ander te pla.

Dit is baie belangrik om vir ’n volwassene te vertel dat jy geboelie word. Praat met ’n volwassene wat jy vertrou, soos jou ouer, ’n onderwyser of iemand anders.

As jy weet van kinders wat geboelie word, is dit die regte ding om so ’n kind te ondersteun. Jy kan planne maak soos om saam met so ’n kind te loop na die skool of terug huis toe.

Die Bybel leer ons om nie terug te slaan nie, al voel ons in ons hart ons wil. Wanneer jy terugbaklei maak dit die boelie net meer aggressief en dit kan ook baie gevaarlik wees, want iemand kan seerkry. Moenie sleg voel as dit nodig is vir jou om weg te hardloop van ’n boelie af nie. Dit is egter baie belangrik dat jy vir ’n volwassene daarvan vertel.

’n Boelie is iemand wat ongelukkig voel met homself en die wêreld en dit nie kan vat dat ander gelukkig is nie. Hulle boelie gewoonlik kinders om aandag te trek, en weet nie hoe om maats te maak nie.

Dit is net Jesus wat mense se gedagtes en gedrag kan verander en daarom moet ons bid en vir die Here vra dat hy die boelie se hart sal verander.

Bid vir jouself dat jy nie sal bang wees nie en altyd die regte ding sal doen. Bid ook dat Jesus jou gaan help om nie iemand anders nie (ook nie jou sussie en boetie) te boelie nie.