Vlerke
Laerskool George-Suid is trots geanker in sy waardes en streef na uitnemendheid op alle gebiede.
As gemeenskapskool is die ontwikkeling en bemagtiging van leerders, personeel, bestuur en ouers, prioriteit.
Hierdie werkswyse word uitgebrei deur die vestiging van Vlerke. Vlerke bied vars en waardevolle verrykinggeleenthede aan individue en professionele persone.
Registreer nou om deel te word van die nuwe gemeenskap.
Gee jou drome Vlerke.
OmgeeLoeries
As een van ons skool se waardes, het ons ‘n sterk fokus op OMGEE.
Die OmgeeLoeries is deurtentyd besig om behoeftes en moeilike situasies te identifiseer. Binne skoolverband word daar hulp en ondersteuning aan behoeftige gesinne, skole en organisasie in ons onmiddelike gemeenskap tydens nood-omstandighede verleen.
OmgeeLoeries se fokus is om ‘n verskil te maak binne-in ons skoolgemeenskap, maar ook in ons gemeenskap rondom ons. Ons probeer deur die OmgeeLoeries ‘n hand uitsteek na hulle wat dit nodig het.
Ons moedig ons ouers aan om betrokke te raak waar dit saakmaak.
Ondersteuners
Hierdie groep ouers het ten doel om die skool se fasiliteite te verbeter en leerders wat buitemuurs presteer finansieël te ondersteun.
Die Ondersteunersklub funksioneer egter nie losstaande van die skool nie en staan steeds onder die jurisdiksie van die Beheerliggaam, d.w.s. alle aksies moet in vennootskap met skool en volgens skool se behoeftes tot voordeel van die skool en sy leerders aangepak word.
Alumni & Loerie Trust
Ons nooi u hartlik uit om deel te word van Laerskool George-Suid se Amptelike Alumni- en Loerie Trust gemeenskap.
As voormalige leerder/ouer/belanghebbende is u ‘n belangrike deel van ons skoolfamilie. Ons wil graag in verbinding bly en u op hoogte hou van opwindende nuus, prestasies, reünies, spesiale geleenthede en ander inisiatiewe by die skool.
Deur aan te sluit by ons alumni – en Loerie Trust gemeenskap, sal u kommunikasie ontvang oor:
- Skoolnuus en prestasies
- Skoolbyeenkomste en reünies
- Fondsinsamelingsprojekte
- Gemeenskapsinisiatiewe
- Ander spesiale geleenthede
- Ons bied ook die opsie om kennisgewings te ontvang rakende bemarkings- en borgskapgeleenthede waar u kan deelneem, saamwerk of ondersteuning bied.
U word ook hartlik uitgenooi om aan te sluit by die Loerie Trust. Die Loerie Trust het ten doel om die skoolbeheerliggaam te ondersteun met hulle buitengewone visie om verskeie doelwitte te bereik. Alle fondse wat hierdie Trust inbring, word direk weer teruggeploeg in Laerskool George-Suid.
Ons sien daarna uit om met u kontak te maak en saam te bou aan die nalatenskap van Laerskool George-Suid.
Turaco Trust van LGS
Skep Geleenthede, Bevorder Finansiële Voordele vir die Gemeenskap
Die Turaco Trust van Laerskool George-Suid is meer as net ‘n ondersteuningstruktuur vir die skool—dit is ‘n aktiewe deelnemer van ekonomiese groei binne ons gemeenskap. Deur die skep van unieke geleenthede en inisiatiewe, bied die Trust platforms wat bydra tot die finansiële welstand van individue en besighede in die omgewing. Hierdie projekte genereer passiewe inkomstestrome wat nie net die skool se bedrywighede ondersteun nie, maar ook direkte finansiële voordele vir gemeenskapslede skep.
As ‘n geregistreerde handeldrywende trust, wat ook vir BTW doeleindes geregistreer is, werk ons daaraan om ‘n werklike impak te maak. Ons strewe is om ‘n sinvolle verskil te maak deur geleenthede te bied wat mense se lewens positief beïnvloed. Die publiek word hartlik uitgenooi om deel te neem aan hierdie reis deur voorstelle en idees met ons te deel. Jou kreatiwiteit en betrokkenheid kan die sleutel tot nuwe finansiële voordele vir ons gemeenskap wees.
Met die Turaco Trust bou ons nie net ‘n sterker skool nie, maar ook ‘n sterker en meer voorspoedige gemeenskap.
Chomp Ouers
CHOMP is die afkorting vir Christus Help Ons Met Probleme!
As medegelowiges roep ons die Here se naam aan. Gebedsversoeke kan aan ons deurgegee word. Ons kan waarlik getuig van die Here se werkende hand in ons skool. Daar is ‘n gebedsboks in elke klaskamer. Wanneer ons hierdie gebedsversoeke ontvang, doen ons voorbidding vir die spesifieke leerder en/ of aangeleentheid. Personeel en ouers is ook welkom om ‘n epos-gebedsversoek aan die volgende adres te stuur: onsbidvirjou@gmail.com. Alle versoeke sal vertroulik hanteer word.
Ons wil graag ‘n veilige hawe skep waar almal die vrymoedigheid sal hê om ons te nader met hul behoeftes sodat ons dit aan die Here kan opdra. Indien die Here dit op iemand se hart lê om deel te wees van hierdie gebedsgroepie, is daardie persoon baie welkom om by ons in te skakel.
