Back

Angstigheid

Angstigheid

Hande in die hare oor my angstige kind!

Wat maak ek? Hoe help ek hom? My kind wil nie in die oggende skool toe gaan nie.
Waar kom die emosies nou vandaan? Wat staan my as ouer te doen? Hoe help ek my kind sonder om skade te doen. Is die angstigheid eg of net manipulasie?

Dan draai die oë na my as berader – ‘fix it please!’

As dit maar so maklik was, hoe wonderlik sou dit wees as die angs na een sessie bedaar en weggaan. Maar trauma is ‘n realiteit en my kind se angs ook. Eers as ek verstaan wat die wortel van ‘bang’ is – waar dit begin het, wat die onderliggende emosies is wat hieraan gekoppel word, kan ek vir angs begin ontrafel en wegjaag.

Soms is dit net om weg te raak in ‘n gelukkige herinnering wat bang verjaag, maar dikwels is bang se wortels dieper in ons kinders se gedagtes en harte ingegrawe.

Daar is ‘n paar goed wat ons as ouers kan onthou:

  • Met elke verandering in ons lewens ervaar ons onsekerheid wat angs kan veroorsaak – veral as ek dinge graag perfek/reg wil doen.
  • ‘n Nuweling in die huis, ‘n nuwe graad, ‘n nuwe ouer in die huis, nuwe sibbe (boeties/sussies)
  • Pappa of Mamma wat skielik ernstig siek is
  • Verhuising
  • Egskeiding
  • Elke kind reageer anders op situasies en dit is regso.

Hierdie veranderinge veroorsaak ‘n emosionele warrelwind in ons kinders. Hul ervaar hul kan dit nie beheer nie en dit veroorsaak angs. As ek nie weet wat ek moet doen of wat verwag word nie, kan dit angs skep.

Watter faktore veroorsaak dat ‘n kind skeidingsangs by die skool beleef?

Behalwe jou kind se persoonlikheid, is daar sekere faktore wat tot skeidingsangs kan bydra:

  • Sensories: ‘n Kind se unieke sensoriese sensitiwiteit kan bepaal of ‘n besige, minder bekende omgewing oorstimulerend is, dit kan ‘n kind se angsvlakke verhoog vir die transisie vanaf die kar na die klaskamer.
  • Spanning tuis: ‘n Chaotiese familie skedule of eksterne faktore van spanning veroorsaak onsekerheid en verhinder gefokusde vreugdevolle aandag van die ouer.
  • Ouers se angs of skuldgevoelens: Ouers se eie skuldgevoelens en angs oor hul kind se angs tydens die aflaai by die skool dra oor op die kind en hy ervaar daar is iets waaroor hy angstig moet wees. “Dis ‘n vreeslike ding wat ek as ouer doen om jou hier te los! “ (Laasgenoemde kan die boodskap wees wat die kind onbewustelik uit die ouer se reaksie integreer.)

‘n Paar wenke wat jy as ouer kan probeer om die angstigheid te bestuur.

  • As jou kind ouditief sensories is, is die lawaai as die skool begin oorweldigend. Probeer hom afgee waar dit dalk rustiger is, of op ‘n tyd wat rustiger is.
  • Voorbereiding vir transisies is belangrik. Praat met jou kind deur jul roetine: “Mamma gaan jou hier by die hek aflaai, jy kan dan jou tas gaan neersit en op die bankie sit en die boekie deurblaai tot jy reg is om met die maatjies te gesels. Of jy kan gou ‘n slukkie water drink en dan gaan speel.” Voorspelbaarheid skep ‘n gevoel van beheer wat angs verminder.
  • Positiewe erkenning wanneer die kind homself kalmeer – al vat dit ‘n rukkie. “Ek is baie trots op jou, ek weet dit was moeilik, maar jy kon dit regkry om bang weg te jaag.”
  • Klein veranderinge in jou oggend of aand skedule kan ‘n groot verskil maak. Gesels saans met jou kind oor aktiwiteite wat vir hom lekker is wat hy die volgende dag gaan doen. Jul kan self ‘n lys maak van goed wat hy graag die week wil doen.
  • Jou kind kan vir sy/haar juffrou ‘n prentjie teken of iets vir sy maatjie neem.
  • Spandeer in die oggende ‘n paar rustige minute met jou kind – eet saam en gesels net.
  • Kry ‘n groet roetine – spesiale groet net vir julle twee.
  • Probeer kalm en opgewek bly in die oggend met die groet. “Ek sien jy voel nou hartseer, maar jy gaan nou-nou lekker speel”
  • Glimlag en gee hom ‘n “high five.”
  • Sorg dat jy ‘n aksieplan in plek het, dit sal jou en jou kind se angs verminder.

So maklik met angs laat ons toe dat dit ons as ouers ook angstig maak. Dan word ons deel van hul emosionele storm terwyl hul eintlik nodig het dat ons ons kalmte met hul deel.

Kom ons help ons kinders om diep asem te haal en te probeer. Dis okay om bang te wees, belangrik om te onthou jy is in beheer – dit jaag bang weg!

Hier is so baie onsekerhede wat kinders moet leer hanteer, dis okay om foute te maak, dit verander nie wie jy is of wie ek as ouer is nie. Haal asem en as dit nodig is, soek hulp, maar weet dis ‘n groei proses, nie ‘n oornag wonderwerk om vir angs te groet nie.

Vriendelike groete: Tronel van Rooyen (Berader & Spelterapeut)

VORIGE UITGAWES

2024

Skermtyd Riglyne

2023

Boelies

2023

Angstigheid

2023

Angs

2022

Vakansie Verveeldheid

2022

My kind het nie maats nie!

2022

Omgee gee hoop

2022

Omgee

2022

Swem of sink

2021

Dissipline