Back

Boelies

Ons ken almal 'n Boelie

Ons weet van hulle en ons ken hulle. Ons weet net nie altyd hoe om hulle te hanteer nie. Of dit in die werksplek, vriendekring of dalk by jou familiebraai is. 

Ek doen tans my prakties as maatskaplike werk student by Laerskool George-Suid. Hier het ek ‘n projek  aangepak in samewerking met die berader vir my groepwerk en gemeenskapswerk. 

Ons het saam met die onderwysers ‘n paar kinders geïdentifiseer om op te lei as “Bully Bouncers” en het ‘n paar groepe aangebied om hulle te bemagtig. Hulle is ook aangemoedig om nie net stil te bly nie, maar ook om op te tree deur ‘n personeellid in te lig , asook om te weet wanneer hulle boelies raaksien of dit ervaar en om te kan onderskei of dit wel boeliegedrag is of nie. 

Eerstens moes ons leer wat is ‘n Boelie: “ Deur Wilma Bedford

“Indien jou kind herhaaldelik onderwerp word aan fisiese en verbale aanslae en gebare deur ʼn persoon of ʼn groep persone; jou kind se eiendom doelbewus beskadig word; vrees by jou kind ingeboesem word;  hy/sy emosioneel aangeval word of sy/haar skoolaktiwiteite op enige manier omvergewerp word en sy/haar grondwetlike reg tot vryheid en gelykheid aan bande gelê word; daar word teen hom/haar gediskrimineer op grond van geslag, ras of geloof, of die waardigheid, privaatheid en vryheid van jou kind op enige ander wyse aangetas word…”

Dit is nie net gewone baklei of ouderdomsgepaste gedrag nie. In ons eie grootwordjare is die woord ‘boelie’ ook gebruik, maar nie so vrypostig vir elke stryery nie. 

Tweedens het ons hoofsaaklik op die skool se waardes gefokus. Wanneer ons die waardes uitleef sal boeliegedrag klaar minder wees. Hierdie het my baie diep laat dink, wanneer ek na die skool se waardes kyk: Leef ek hierdie waardes by my huis uit ? Wat beteken dit vir ons as gesin? Kinders word met ‘n skoon lewensbladsy gebore, maar word gedurende hul eerste vormingsjare deur ervarings gevorm. Ons as ouers: Hoe hanteer ek my eie kinders. Kan hulle by my hierdie lewensbelangrike waardes leer? 

  • Omgee is een van die makliker waardes. Omgee is om vriendelikheid en besorgdheid teenoor ander te betoon. Die vraag wat ek myself afvra: wys ek dat ek omgee vir mense rondom my? Doen ek dit met enige persoon en gee ek vir enige medemens om wat dalk ‘n ander leefstyl as ek handhaaf? Hoe kan my kind by my leer van omgee sodat hy/sy kan omgee in die skool opset met maats wat dalk anders of minder gewild is?
  • Respek is gelykstaande aan eerbied, waardering en erkenning vir ‘n persoon. Respek is een van die belangrikste morele waardes. Respekteer ek my kind se onderwyser en sy outoriteit in sy of haar klas? Of praat ek negatief van hulle voor my kind? Wat kan veroorsaak dat my kind nie vir hulle respek toon nie? Doen ek dalk iets wat my kind se respek vir my skaad? Respekteer ek my kind se ander ouer en praat ek ‘n taal wat opbou of afbreek? Die stemtoon wat ons gebruik is dikwels die stemtoon wat ons kinders gebruik met ander maatjies. Hoe klink ons en wat sê ons? 
  • Verantwoordelik en betroubaar is so naby aan mekaar en tog verskillend.
  • Om verantwoordelik te wees beteken om te doen wat van jou verwag word. Kom ek my beloftes en verpligtinge na? Neem ek verantwoordelikheid vir my eie optrede of blameer ek ander wanneer dinge verkeerd loop? Neem ek verantwoordelikheid vir my rol as ouer in my kind se lewe op? Is ek ‘n verantwoordelike ouer waar my kind ten alle tye veilig voel.
  • Betroubaarheid is om dit te doen waartoe jy jouself verbind het. Kan mense op jou staatmaak en is jy lojaal en eerlik? As ek sê dat ek my kinders êrens heen gaan neem vir die naweek, hou ek by my woord? Of sukkel my kinders om my te vertrou? 
  • Regverdigheid is die vermoë om mense gelyk te behandel. Hoe voel jy wanneer jy onregverdig behandel word? Hoe kan jy sorg dat jy regverdig teenoor jou kind optree? My ouers was altyd baie regverdig: elke jaar het hulle vir ons dieselfde “waarde” kersgeskenk gekoop. Maar soms soek een kind baie klein goedjies vir dieselfde waarde, maar ‘n ander een soek ‘n groot geskenk. Hoe kan jy hierdie reg benader en jou kinders regverdig behandel? Dis ook die geval met verskillende persoonlikhede en behoeftes, hoe akkomodeer en verduidelik ek dit? 
  • Burgerskap impliseer die regte en pligte wat ‘n burger moet nakom in die wete dat hulle verantwoordelik sal wees vir die saambestaan van die individu in die samelewing. Hoe kan jy jou kinders leer om ‘n verskil te maak en om die omgewing ‘n beter plek te los vir die volgende persoon? Regte en pligte moet nagekom word. Bv: tel papiere op by jou deel van die sypaadjie van jou eie huis. 

Kom ons moedig ons kinders aan deur ons leefstyl om hulle waardes in die skoolopset uit te leef en ons sal klaar ‘n verandering sien. 

Wanneer ek nie my waardes in die huis uitleef nie, ken ek nie net ‘n boelie nie, maar is ek soms een. 

Geskryf deur ‘n trotse ouer van Laerskool George Suid – wat ook weer opnuut die waardes wil uitleef!

Cora Rautenbach
3de Jaar Maatskaplike werk student

Berader by Options Sorgsentrum George

VORIGE UITGAWES

Boelies

Ons ken almal ‘n Boelie Ons weet van hulle...

Angstigheid

Angstigheid Hande in die hare oor my angstige kind!...

Angs

Wanneer kinders angs beleef Baie kinders ervaar deesdae angs...

Vakansie Verveeldheid

Vakansie verveeldheid So halfpad in die vakansie kom die...

My kind het nie maats nie!

My kind het nie maats nie! Die hulpkreet van...

Omgee gee hoop

Om vir ander om te gee, gee hoop! Dis...

Omgee

Omgee Volhoubaar, Veerkragtig en Onstuitbaar – ons tema vir...

Swem of sink

As daar nou ‘n tyd was wat nuwe woorde...

Dissipline

DISSIPLINE Een van die nuwe gonswoorde van 2021 is...

Positiewe ingesteldheid

Geestelike weerbaarheid begin met ‘n postiewe ingesteldheid! Oktober is...