Laerskool George-Suid - Brein en Emosies

Brein en Emosies

My hart gaan uit na vandag se kinders! So dikwels daag hul by my beradingskantoor op en wanneer ek hul lyftaal sien, besef ek dat dit tyd is vir ‘n nuwe benadering om hierdie kinders weer ‘n positiewe uitkyk op die lewe te gee. Sommiges daag onderstebo koppie, baie versigtig en huiwerig op, hulle staan ongemaklik rond, weet nie wat om te doen nie. So bang dat hulle iets verkeerd sal sê of doen.

Dit is eers nadat ons rustige musiek luister, soms met “hot-chocolate” daarby, sommer net gesels of speletjies speel, dat sulke kinders geleidelik ontspan. In hulle speel vertel hulle vir my so baie. Dikwels praat hulle negatief oor hulself. Ongelukkig is negatiwiteit ‘n emosie wat aangeleer word. ‘n Kind is negatief oor homself omdat hy/sy die boodskap iewers gehoor of ervaar het en dit dan deel maak van sy denke. Miskien het iemand in ‘n onbewaakte oomblik net iets gesê wat hom dom laat voel het. Dalk vat hy/sy net langer om iets aan te leer, maar vergeet dan nie weer hoe daardie woorde hom/haar laat voel het nie.

Ons verskil so baie van mekaar. Ons sal nooit van ‘n vis verwag om boom te klim of van ‘n aap om in die water te bly nie. Waarom verwag ons dit van ons kinders?

Ons denke is ongelooflik belangrik! Die goeie nuus is al kom gedagtes soms vinnig by ons op, kan ons kies wat ons daarmee gaan maak! Ons kan ons brein eintlik leer wat om te dink!

Die KELLER EDUCATIONAL FOUNDATION, waarby ons skool hierdie jaar ingeskakel het, voeg baie waarde toe tot die personeel, sowel as kinders, se benadering en ingesteldheid. Die eenvoudige verduideliking van hoe ons brein werk, kan ons optrede drasties verander wanneer ons ingelig is. Ons brein bestaan uit drie dele, nl. die breinstam , limbic brein en prefrontale brein.

Kortliks is die breinstam, die reptielbrein, voorgestel as die krokodil (rooi). Dit is die primitiewe brein wat nie dink nie. Hy reageer net. Dit is ook bekend as die oorlewingsbrein. Die krokodil wil graag veilig voel en sal enige iets aanval wat sy veiligheid bedreig. Hy reageer outomaties op gevaar en dink nie aan gevolge nie.

Net daarna volg die emosionele (limbic) sisteem, voorgestel as die olifant (blou). Wanneer die krokodil veilig voel, kan die olifant sy emosies beheer. Wanneer emosies die olifant buite beheer laat voel, wanneer dit hom oorweldig of onseker laat voel, maak hy die hek vir die krokodil oop. Wanneer die olifant voel hy behoort en dat hy ‘n plekkie het, vind hy sy skakelaar, nl. die hippotalmus wat die denke aanskakel.

Die denke, ons rekenaar of CEO, (groen) is die deel van ons brein wat dink. Let op dat die denke net goed kan funskioneer wanneer ons kinders veilig en geliefd voel en ook wanneer hul ervaar dat hul behoort en waarde het. Indien die kinders voel dat hul nie veilig (veral emosioneel veilig) is nie, nie waarde het of dat hul nêrens behoort nie, kan hulle nie dink of fokus nie, want dan werk net die krokodil brein wat beskerm en outomaties reageer sonder om te dink!

As die olifant vir die denke/rekenaar positiewe boodskappe deurgee, is die krokodil se hek toe en die rekenaar skakel aan om lekker te dink. Dis die olifant wat vir ons vertel ons kan, of kan nie. As ons vir onsself vertel ons kan nie, gaan die hek vir die krokodil oop en die rekenaar gaan van lyn af. Ek kan nie dink nie, want ek word oorweldig deur my gevoel van mislukking. As die olifant lekker voel en voel hy behoort, is die rekenaar dadelik aan en die krokodil op hok!
Kom ons help ons kinders om veilig en geliefd te voel sodat hulle lekker kan dink en emosioneel gesond en gebalanseerd kan funksioneer!

Vriendelike groete uit die berader se kantoor. 

Tronel van Rooyen (LGS Berader)

VORIGE UITGAWES

admin
13 April 2021

Brein en Emosies

admin
29 Januarie 2021

Veerkragtigheid

admin
31 Julie 2020

Covid Glas

admin
3 Julie 2020

LGS groet ‘n legende

admin
31 Maart 2020

Hoe beskerm ek my kind?