
Die geheime goue draadjie
- Date 3 Junie 2025
Die geheime goue draadjie
Daar is ‘n kosbare geheime goue draadjie wat tussen ons skoolgange en huise beweeg. Hierdie twee omgewings vorm die ontwikkelingsareas van die goue draadjie. Ons leerders is die kern van hierdie goue draadjie. Hoekom? Hul menswees en karakter beweeg tussen die twee. Hierdie draadjie is van goud gemaak, want dit verteenwoordig iets kosbaar. Dit vorm ons leerders se waardestel en dra by tot die grootmense wat hulle eendag gaan word. ‘n Baie belangrike taak wat aan beide omgewings toevertrou word.
As skool is dit vir ons belangrik om hierdie goue draadjie te koester en te ontwikkel. Hierdie draadjie kan net versterk word as die ontwikkelingsareas goed saamwerk. Deel van die gereedskap waarmee ons graag ons Loeries wil toerus vir die wêreld daarbuite, is ons waardes. Ons wil graag saam met die huis die saadjies van waardes plant, water gee en sien blom. Soos jul reeds weet, fokus ons op twee spesifieke waardes per kwartaal. Die doel hiervan is om die waarde, die betekenis en hoe hierdie waarde vir ons relevant is, by leerders tuis te bring. Gedurende hierdie kwartaal het ons op respek en burgerskap gefokus.
Die eerste waarde waarop ons vir vier weke klem gelê het, was respek. Respek beteken dat jy iemand aanvaar vir wie hulle is, al verskil hulle van jou en al stem jy nie noodwendig altyd met hulle saam nie. Ons toon respek wanneer ons ander mense se gevoelens in gedagte hou, goeie maniere het en beleefdheid teenoor enige iemand toon. Hier volg ‘n paar wenke wat jul by die huis kan gebruik om die goue draadjie deurlopend te versterk.
- Ons het vir leerders die volgende goue reël ten opsigte van respek geleer: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.
- Grootmense modelleer respek vir kinders deur hul voorbeeld. As ons voortdurend bewys dat ons ander persone, groot of klein, met respek behandel, sal dit vir hulle maklik wees om die gedrag aan te leer.
- Ons taalgebruik is ‘n belangrike aspek wat respek kan maak of breek. Om op eenvoudige woorde soos ‘asseblief’ en ‘dankie’ te fokus, wys reeds baie respek.
- Dit is belangrik dat leerders leer dat respek nie net teenoor mense betoon word nie, maar ook teenoor ons omgewing. Hoe ons na die velde en die gronde omsien, is ‘n wyse van respek toon. As ons konsentreer om die omgewing waarin ons beweeg te koester, wys ons daarvoor respek.
- Ons kan soms so vasgevang raak in die ‘respekteer-ander-mense’ dat ons van onsself vergeet. Om respek vir jouself te hê, is net so belangrik soos vir ander. Hoe jy jouself versorg, jou netheid, die beeld wat jy van jouself het en oordra, verdien jou aandag.
Die tweede waarde waarop ons in hierdie kwartaal gefokus het, was burgerskap. Hierdie waarde is veral vir ons jonger leerders ‘n groot uitdaging. Dit is ‘n abstrakte konsep vir leerders en het hulle ons hulp nodig om dit vir hulle visueel voor te stel. Om goeie burgerskap te hê, beteken dat ons gesteld is op ons pligte, regte, gedrag en verantwoordelikhede teenoor ons land, dorp, skool en omgewing. Hier volg ‘n paar wenke wat ons as grootmense kan help om hierdie waarde vir ons leerders te versterk.
- Burgerskap reflekteer direk op ons onmiddellike omgewing. Wanneer ons hard werk om ons direkte omgewing skoon en netjies te hou, toon ons reeds goeie burgerskap. Deur leerders betrokke te kry by die netheid van die huisomgewing, leer hulle reeds burgerskap.
- Deur betrokke te raak by aktiwiteite in ons dorp waar daar gefokus word op die bewaring van ons natuurlewe, bevorder ons burgerskap. Dit is altyd ‘n goeie idee om by vrywillige werk betrokke te raak waar die omgewing bevorder word.
- Ons modelleer goeie burgerskap wanneer ons die reëls en landswette nakom. Dit wys vir leerders hoekom dit nodig is, sodat ons almal in harmonie kan leef.
- Ons is goeie bure vir ander rondom ons. Ons leer mense in ons omgewing ken en help hulle waar ons kan. Al is dit soms net ‘n vriendelike groet wanneer ons mekaar sien.
- Deel van goeie burgerskap is om respek vir ander te toon. Wanneer ons leerders met respek optree teenoor hul vriende en gesagsfigure, is hul reeds goeie burgers. Hoekom? Hulle maak die omgewing waarin hulle beweeg ‘n veilige hawe vir ander om in te beweeg.
As grootmense vorm ons deel van die kern ontwikkelingsareas waarin leerders se goue draadjies beweeg. Dus is dit ons verantwoordelikheid om seker te maak ons gee vir hulle die regte toerusting om eendag te kan floreer. Ons kan hierdie draadjie versterk deur klein veranderinge of beklemtoning in ons alledaagse lewe. Ek sien uit om eendag te sien hoe hierdie Loeries as waardevolle en waardegedrewe grootmense gaan floreer.
*Lumé le Roux (Skoolberader)
VORIGE UITGAWES
Die geheime goue draadjie
Die geheime goue draadjie Daar is ‘n kosbare geheime...
Waardevolle Loeries
Waardevolle Loeries Loerieland is ons leerders se huis weg...
Padkaart vir eksamenstres
Padkaart vir eksamenstres Die jaareindeksamen vir 2024 kruip al...
Verlies
Die groot hartseer – Verlies Net soos volwassenes soms...
Groei
Groei Hierdie jaar is LGS se tema is groen....
Skermtyd Riglyne
Skermtyd riglyne vir besige ouers Ons brein is nie...
Boelies
Ons ken almal ‘n boelie Ons weet van hulle...
Angstigheid
Angstigheid Hande in die hare oor my angstige kind!...
Angs
Wanneer kinders angs beleef Baie kinders ervaar deesdae angs...
Vakansie Verveeldheid
Vakansie verveeldheid So halfpad in die vakansie kom die...
My kind het nie maats nie!
My kind het nie maats nie! Die hulpkreet van...
Omgee gee hoop
Om vir ander om te gee, gee hoop! Dis...
Omgee
Omgee Volhoubaar, Veerkragtig en Onstuitbaar – ons tema vir...
Swem of sink
As daar nou ‘n tyd was wat nuwe woorde...
Dissipline
DISSIPLINE Een van die nuwe gonswoorde van 2021 is...
Positiewe ingesteldheid
Geestelike weerbaarheid begin met ‘n postiewe ingesteldheid! Oktober is...
Glo jy kan
GLO JY KAN Jy is die baas van jou...
Ek kan
EK KAN Om vandag te oorleef het leerders nodig...
Hoop
HOOP Ons speel emosionele aflos… om net te oorleef! ...
Ek het waarde
Ek het WAARDE Dis ‘n heerlike sonskyndag buite, maar...
Brein en Emosies
Brein en Emosies My hart gaan uit na vandag...
Veerkragtigheid
Veerkragtigheid Ons tema vir die jaar. Die waarheid is...
Covid Glas
Covid Glas Ons maak graag ons kinders groot vir...
LGS groet ‘n legende
LGS groet ‘n legende Vandag groet Laerskool George-Suid ‘n...
Hoe beskerm ek my kind?
Hoe beskerm ek my kind Almal hardloop wye draai...
