Covid Glas

Ons maak graag ons kinders groot vir sukses. “set up for success” – dis so mooi gestel in engels. Hoe doen ek dit met die pandemie?

Ons raak almal gefrustreerd en wil soms net gil! En dis ‘okay’… Want dis deel van groei. Emosionele groei en volwassenheid is nie net ‘n stasie waar jy eendag stilhou en arriveer nie. Dis ‘n deurlopende proses – elke dag een tree nader… sterker… gereed vir sukses.

In die skool verduidelik ek vir die kinders in die klasse dat onsekerheid soos ‘n glas water is wat jy baie lank moet vashou. In die begin is dit maklik, maar hoe langer jy die glas vashou, hoe moeiliker word dit… jou lyf begin later vir jou wys en vertel dis nou genoeg….. jou arm word seer, jou spiere styf, jy wil die water al uitgooi en wegstap.

Onsekerheid is moeilik om te hanteer – en hoe langer dit uitgerek is, hoe swaarder is dit. Ons glase verskil ook, party se glase is groot, ander s’n is klein en loop makliker oor…. En as onsekerheid oorloop is dit in emosies… met woede, aggressie, onttrekking, ens.

Die verskil van die glase maak ons nie beter of slegter nie, dit bepaal net ons vermoë om spanning en onsekerheid te hanteer – ons frustrasie drempel. Maak nie saak hoe groot jou glas is nie, wat saak maak is dat jy bewus is van hoe groot jou glas is en wat jy daarmee kan maak!!

Jy kan kort-kort bietjie uitgooi, die glas met tye neersit.. en jou lyf kans gee om te rus.. hoe op aarde doen ek dit?

Deur asem te haal… en ons elkeen se manier van glas neersit en om asem te skep verskil, dalk lees jy ‘n boek en sit die glas onsekerheid vir ‘n uur neer, dalk draf, dalk koffie drink saam met ‘n vriendin… dalk stil word…

Liewe mens, jy hoef nie heeltyd die glas onsekerheid vas te hou nie… ons is nou waar ons is, maar soek na maniere om die glas neer te sit en vir ‘n rukkie net te wees… jou frustrasie spiere rus, sterk maak ….

Die glas is in jou hand… maar jy kan tog kies wat jy daarmee maak… mag jy spoedig die plekkie vind waar jy jou glas kan neersit en asem skep… Cheers!

Geskryf deur: Tronel van Rooyen (LGS Berader)