
Waardevolle Loeries
- Date 24 Februarie 2025
Waardevolle Loeries
Loerieland is ons leerders se huis weg van die huis. Die skool se waardes is daar gestel om ‘n goue draadjie tussen die skool en huis te vorm. Daarom is dit belangrik dat ons aandag aan waardes skenk.
In Loerieland is almal waardevol. Elke Loerie is uniek, individueel en kosbaar. Gedurende hierdie jaar wil ons graag ons waardes afstof en beklemtoon. Ons gaan in elke kwartaal op twee waardes fokus. In hierdie kwartaal fokus ons op verantwoordelikheid en omgee. Ons spandeer vier weke aan elke waarde. Daar is in elke week ‘n spesifieke fokusarea. In hierdie artikel wil ek graag aandag skenk aan wat waardes beteken en die twee waardes vir hierdie kwartaal beklemtoon.
Die woord waarde kom van die Latynse woord “valere” wat beteken dit wat werklik waarde het of dit wat werklik waardevol is. Waardes is die opinies en oortuigings wat ons optrede beïnvloed en gedrag motiveer. Ons reaksies op gebeure en ervarings rondom ons, word deur ons waardes aangevoer. Ons evalueer ander se aksies of woorde deur ons waardes. Ons streef daarna om ‘n gevestigde waardesisteem te ontwikkel sodat ons gepaste reaksies kan hê om positiewe en gesonde verhoudinge met ander te ontwikkel.
Die konsep van waardes is vir meeste leerders, veral jonger leerders, ‘n abstrakte konsep. Waardes is nie iets wat ons kan sien of aan kan vat nie, daarom moet ons dit vir hulle vereenvoudig en meer visueel uitbeeld. Ons kan dit net doen deur daaroor te praat en dit uit te beeld met voorbeelde. Hierdie voorbeelde word meestal deur ons gedrag voorgestel.
Ons eerste waarde vir die jaar is verantwoordelikheid. Verantwoordelikheid beteken om tot ‘n mate onafhanklik te wees, om te weet wat goeie keuses of besluite is en dit te maak en om bereid te wees om die gevolge van verkeerde keuses te dra. Hier volg ‘n paar wenke wat ons as grootmense kan gebruik om verantwoordelikheid vir leerders sigbaar te maak.
- Almal moet die gevolge van hul dade dra. Kinders leer wanneer hul die gevolge van onverantwoordelike dade moet dra. As ouers wil ons hulle uit die moeilikheid hou, maar soms is dit die enigste manier hoe hulle die gevolge leer.
- Gee van kleins af vir kinders spesifieke ouderdomsgepaste take en verantwoordelikhede by die huis. Daar moet ook duidelike gevolge wees as hul dit nie nakom nie. Konsekwentheid in hierdie verband is van kardinale belang.
- Sien hul verantwoordelike gedrag raak en gee erkenning daarvoor. ‘n Beloningstelsel werk goed in hierdie verband. Ons is geneig om verantwoordelike gedrag as vanselfsprekend te aanvaar en kyk dit soms mis. Dit is nodig vir kinders om erkenning daarvoor te ontvang en sodoende vestig ons die waarde.
- Aanvaar verantwoordelikheid vir eie foute. Kinders is soos sponse en leer deur ons voorbeeld te volg. As hulle sien hoe ons as grootmense ons foute herken en dit regstel, gaan dieselfde gedrag meer natuurlik by hulle voorkom.
Die tweede waarde waarop ons hierdie kwartaal fokus, is omgee. Omgee beteken om vriendelik en gaaf teenoor ander te wees, met ander te deel, om bedagsaam te wees deur asseblief en dankie te sê, vir ander se gevoelens sensitief te wees en om ‘n vergewensgesindheid te hê. Om hierdie waarde meer verstaanbaar te maak en oor te dra, verander ons omgee in ‘n werkwoord. Omgee is iets wat ons kan doen. Ons kan omgee doen vir ons familie, maar ook vir ons medemens. Hier volg ‘n paar wenke wat ons as grootmense kan help om omgee meer sigbaar uit te beeld.
- Dink aan maniere hoe jul die huisomgewing in ‘n omgee-omgewing kan verander. Hou ‘n huisvergadering, bespreek die betekenis van omgee en dink saam aan idees en gedagtes om ‘n omgee-omgewing te skep.
- Maak jul huis ‘n veilige hawe deur omgee-woorde te gebruik. Dink aan reëls om afbrekende en beledigende maniere van kommunikeer te verban.
- Maak beleefdheid, bedagsaamheid en vriendelikheid kernwoorde in jul huis.
- Plak vir ‘n week elke dag ‘n omgee aanhaling op ‘n sigbare plek in die huis. Bespreek die aanhaling aan tafel en kyk wie, of hoe, hierdie aanhaling ‘n impak op elkeen se dag gehad het.
- Hou ‘n omgee-dag. ‘n Dag waar elkeen vir iemand anders in die gesin iets spesiaal moet doen om omgee en waardering uit te beeld.
- Maak ‘n omgee-boom. Plak ‘n papierboom teen die muur. Sny blare uit papier en skryf aanhalings of voorbeelde van omgee-gedrag daarop neer. Plak die blare teen die boom. Soos wat iemand in die gesin een van die voorbeelde doen of uitbeeld, haal die blaar af en sit dit onder die boom neer.
Hierdie wenke en gedagtes is slegs enkele voorbeelde van hoe ons as grootmense die goue draadjie van waardes by die skool en tuis lewendig kan hou. As ons daarna streef om waardes op alle gebiede lewendig te hou, sal ons kinders help om op die ou einde van die dag ‘n lewe gekenmerk met waardes te kan leef.
*Lumé le Roux (Skoolberader)
VORIGE UITGAWES
Die geheime goue draadjie
Die geheime goue draadjie Daar is ‘n kosbare geheime...
Waardevolle Loeries
Waardevolle Loeries Loerieland is ons leerders se huis weg...
Padkaart vir eksamenstres
Padkaart vir eksamenstres Die jaareindeksamen vir 2024 kruip al...
Verlies
Die groot hartseer – Verlies Net soos volwassenes soms...
Groei
Groei Hierdie jaar is LGS se tema is groen....
Skermtyd Riglyne
Skermtyd riglyne vir besige ouers Ons brein is nie...
Boelies
Ons ken almal ‘n boelie Ons weet van hulle...
Angstigheid
Angstigheid Hande in die hare oor my angstige kind!...
Angs
Wanneer kinders angs beleef Baie kinders ervaar deesdae angs...
Vakansie Verveeldheid
Vakansie verveeldheid So halfpad in die vakansie kom die...
My kind het nie maats nie!
My kind het nie maats nie! Die hulpkreet van...
Omgee gee hoop
Om vir ander om te gee, gee hoop! Dis...
Omgee
Omgee Volhoubaar, Veerkragtig en Onstuitbaar – ons tema vir...
Swem of sink
As daar nou ‘n tyd was wat nuwe woorde...
Dissipline
DISSIPLINE Een van die nuwe gonswoorde van 2021 is...
Positiewe ingesteldheid
Geestelike weerbaarheid begin met ‘n postiewe ingesteldheid! Oktober is...
Glo jy kan
GLO JY KAN Jy is die baas van jou...
Ek kan
EK KAN Om vandag te oorleef het leerders nodig...
Hoop
HOOP Ons speel emosionele aflos… om net te oorleef! ...
Ek het waarde
Ek het WAARDE Dis ‘n heerlike sonskyndag buite, maar...
Brein en Emosies
Brein en Emosies My hart gaan uit na vandag...
Veerkragtigheid
Veerkragtigheid Ons tema vir die jaar. Die waarheid is...
Covid Glas
Covid Glas Ons maak graag ons kinders groot vir...
LGS groet ‘n legende
LGS groet ‘n legende Vandag groet Laerskool George-Suid ‘n...
Hoe beskerm ek my kind?
Hoe beskerm ek my kind Almal hardloop wye draai...
